Die naam Kruisweg (Via Crucis in Latyn) word gegee aan
’n baie waardige en gewilde godsdienstige praktyk waarby die lydingsweg
van Christus deur middel van veertien afbeeldings (die sogenaamde stasies)
in herinnering geroep word. Volgens oorlewering het die Maagd Maria
ná haar Goddelike Seun se aardse lewe daagliks in Jerusalem die
Via Dolorosa (die weg van smarte) geloop – hier het sy vertoef
om te bid by die plekke waar die dramatiese gebeure van Christus se
laaste paar ure op aarde afgespeel het. Vanaf die vroegste tye af het
Christen pelgrims aan Jerusalem dié plekke besoek wat verband
gehou het met die Heiland se lewe en sterwe. Dit was veral ten tye van
die Kruistogte en die gevolglike totstandkoming van die Latynse Koninkryk
van Jerusalem dat belangstelling vanuit Europa en kontak met die Heilige
Land ’n ongekende hoogtepunt bereik het. Terugkerende kruisvaarders
en pelgrims het tuis afbeeldings laat maak van dié plekke wat
ten nouste verbind was met die lewe van die Here Jesus. So het die gebruik
ontstaan om in kerke afbeeldings aan te bring wat die gebeure uitbeeld
van Jesus se kruisweg. Ons weet dat daar teen die vyftiende eeu reeds
sewe van hierdie stasies in gebruik was. Die getal het mettertyd uitgebrei
en dit was veral onder die invloed van die Franciskanerorde (wat in
1343 die amptelike Bewakers van die Heilige Land geword het) dat dié
devosie deel geword het van die Kerk se lewe. Aanvanklik het dié
afbeeldings en die presiese getal ook van streek tot streek gewissel
maar in die jaar 1751 is die getal amptelik op die volgende veertien
insidente vasgestel:
1. Jesus word ter dood veroordeel.
2. Jesus neem die kruis op sy skouers.
3. Jesus val vir die eerste maal onder die kruis.
4. Jesus ontmoet sy bedroefde moeder.
5. Simon van Cirene help Jesus om sy kruis te dra.
6. Veronica droog die gesig van Jesus af.
7. Jesus val vir die tweede maal onder die kruis.
8. Jesus troos die wenende vroue van Jerusalem.
9. Jesus val vir die derde maal onder die kruis.
10. Jesus word van sy klere beroof.
11. Jesus word aan die kruis vasgespyker.
12. Jesus sterf aan die kruis.
13. Die liggaam van Jesus word van die kruis afgehaal.
14. Jesus word in die graf neergelê.
Die Kruisweg word altyd in die oggend van Goeie Vrydag
in alle Katolieke kerke gebid. Regdeur die Vastyd word die Kruisweg
gewoonlik elke Vrydag gebid. Onder Pous Johannes Paulus II het dit gebruiklik
geword dat die Kruisweg op die aand van Goeie Vrydag in die Colosseum
(waar soveel vroeë Christene as martelaars gesterf het) gebid word.
In die jaar 2004 het Pous Johannes Paulus II ook ’n alternatiewe
lys van veertien stasies die lig laat sien. Hierdie nuwe lys is as volg:
1. Jesus bid in doodsangs in die Tuin van Getsemané.
2. Jesus word deur Judas verraai en gearresteer.
3. Jesus word in die Sanhedrin veroordeel.
4. Petrus verloën Jesus driemaal.
5. Jesus word deur Pilatus veroordeel.
6. Jesus word gegesel en met ’n doringkroon gekroon.
7. Jesus neem die kruis op.
8. Simon van Cirene help Jesus om sy kruis te dra.
9. Jesus ontmoet die vroue van Jerusalem.
10. Jesus word gekruisig.
11. Jesus beloof sy Koninkryk aan die berouvolle rower.
12. Jesus aan die kruis praat met sy moeder en sy geliefde dissipel.
13. Jesus sterf aan die kruis.
14. Jesus word in die graf neergelê.