_PRINTFRIENDLY _PRINTFRIENDLY
Die Hemelse Oratorium
St. Filip Neri (1)

St. Filip Neri (1515-1595)

Die Blye Heilige, ook bekend as die Tweede Apostel van Rome

   
St. Filip Neri, Die Oratorium en die Musiek van sy tyd
   
St. Philip Neri - The Happy Saint a.k.a. the Second Apostle of Rome
   

   

St. Filip Neri
As daar nou een heilige is wat uitstaan as die Heilige van Humor, dan is dit onteenseglik, St. Filip Neri. Sy vreugdevolle persoonlikheid en opgeruimde ingesteldheid teenoor die lewe het (op die wyse van ‘n regte goeie grap - iets waarvoor hy ook baie lief was) soos ‘n veldbrand deur die Rome van sy tyd getrek. Derduisende mense se lewens is deur hom aangeraak en sy vrolike geaardheid het waarskynlik meer mense tot bekering gebring as al die (dikwels hoogdrawende) preke van sy tyd. St. Filip het bowenal mense tot ‘n diepe besef gebring dat God vir ons omgee, dat God ons hartstogtelik liefhet en ons werklik gelukkig wil sien. St. Filip se merkwaardige apostolaat was geheel en al op persoonlike kontak met mense gebou. By hom was daar nooit ‘n geprekery en geskreeu op die straathoeke nie - altyd egter opgeruimdheid en baiekeer ‘n speelse grapperigheid wat mense na hom toe aangetrek het. Hy het daarvan gehou om gewoon op straat te staan en met mense te gesels; dikwels het hy totale vreemdelinge gegroet met die woorde: “Wel my broers, wanneer gaan ons begin om goeie dinge te doen?”

St. Filip se heilige humor was diep gewortel in ‘n lewe van gebed. Hy was eenvoudig totaal opgevang in God se goedheid en heerlikheid. Vir hom was God en sy heiliges en engele so bekend en deel van sy lewe as die mense met wie hy ‘n huis gedeel het. Op ‘n keer toe hy ernstig siek was en daar twee dokters in sy kamer was om hom te versorg, het hy die Geseënde Moeder Maria voor hom sien staan; heel opgewonde het hy sy arms na haar toe uitgestrek en uitgeroep hoe wonderskoon sy was. Die dokters het gedink hy yl en probeer om hom terug teen die kussings te druk. St. Filip het uitgeroep: “Gaan u my nou verhoed om my Heilige Moeder te groet wat my kom besoek het!” Toe besef St. Filip skielik dat die dokters haar nie kon sien nie, en op sy gewone beskeie manier wou hy nie die dokters laat agterkom dat hy visioene sien nie en het hy homself vinnig met groot verleentheid onder die komberse verberg.

Hierdie Heilige wat mense so kon laat skaterlag was ‘n man van vele diepe mistieke ervaringe. Deur hom het God talle mense genees en as biegvader en geestelike begeleier het hy duisende mense tot lewens van heiligheid aangespoor. As dit u begeerte is om uself geheel en al aan God toe te wy en met vertroue ‘n lewe te lei waar liefde, vreugde en vrolikheid heers, vra dan om die voorspraak van St. Filip. Laat sy lewe u inspireer en sy gebede u versterk - hy sal meer as gewillig wees (inteendeel dol gelukkig) om dit te doen!

* ‘n Lewenskets van St. Filip is in handige A5 formaat boekie op aanvraag beskikbaar.

   
Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn is 'n geregistreerde Openbare Weldaadsorganisasie
Nommer 93 00 00 036

Die Oratorium van St. Filip Neri - Oudtshoorn :: God is ons Erns
 
 Tuisblad
 Home Page
 Gepubliseerde Artikels
 Ons Oratorium
 Our Oratory
 Kuns & Beeldhouwerk
 Pastoraal
 Pastoral
 Gebruiksbepalings
 & -Voorwaardes
© Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn
Die eerste Oratorium in Afrika – Kerkwetlik opgerig 1997
Webmeester Vernon Meyer | Web-gasheer JCW Hosting