DIE
DRIE VOLSTRUISVERE verwys hoofsaaklik na die Bisdom, Distrik
en Dorp Oudtshoorn. Hulle het egter ook Bybelse en geestelike betekenis
omdat hulle ons aan die feit herinner dat God oor al sy skepsels waak,
die diere van die veld, voëls in die lug en visse in die see
– nie net die mens nie – en hulle versorg. In Job 39:16-17
lees ons: “Die vlerke van die volstruis klap vrolik net
soos dié van die ooievaar en die valk, maar sy lê haar
eiers op die grond en broei hulle uit op die sand.” Hulle
verwys ook na die drie persone van die Heilige Drie-eenheid: die ewige
Liefdeseenheid en die Bron van alle lewe.
DIE
DRIE AGTPUNTIGE STERRE, in perfekte balans bo en weerskante
van die brandende hart geplaas, is simbole van geregtigheid en bedoel
om uitdrukking te verleen aan die mens wat in nederigheid die wil
van die Here in sy lewe volbring en sodoende regverdig d.w.s. heilig
en aanneemlik in God se aanskyn word.
DIE PROTEAS, nasionale blom van Suid-Afrika, dui
op die lewenskrag van hierdie unieke Suid-Afrikaanse gemeenskap en
die potensiaal wat tot blom gebring kan word, m.a.w. ontgin moet word.
DIE
BRANDENDE HART in die middel van die asuur
skild verteenwoordig die bron en oorsprong van die geestelikheid van
St. Filip Neri, die apostel van vreugde en naasteliefde, wat as 'n
spesiale genadegawe van God onophoudelik die aanwesigheid van die
Heilige Gees in sy hart ervaar en beleef het.
DIE
LEUSE van die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip
Neri, wat onder die wapenskild verskyn, lui “GOD IS
ONS ERNS”. Hierdie leuse is doelbewustelik ontleen
aan 'n vroeë slagspreuk vir die erkenning van die Afrikaanse
Taal. Hierdie selfde taal word nou ingespan om die oudste Christelike
tradisie deel te maak van die Afrikaanse leefwêreld.