_PRINTFRIENDLY _PRINTFRIENDLY
Die Jaar van die Priester
Untitled Document

Annus Sacerdotalis:

Die Jaar van die Priester - 19 Junie 2009 tot 19 Junie 2010

Pous Benedictus XVI het ‘n spesiale ‘Priesterjaar’ aangekondig wat vanaf die Fees van die Allerheiligste Hart van Jesus op 19 Junie 2009 tot 19 Junie 2010 sal strek. Gedurende dié jaar sal die Kerk en haar priesters uitgenooi word om oor die Here Jesus se groot geskenk van die priesterskap na te dink en tot ‘n nuwe waardering daarvan te kom. In dié spesiale temajaar word die 150ste herdenking van die dood van St. Jean Maria Vianney ook gevier. Dié “Curé van Ars”, soos hy bekend staan, is by uitstek ‘n rolmodel vir alle priesters. In sy toespraak by die aankondiging van dié spesiale jaar het die pous ‘n beroep op priesters gedoen om ”hul verlange na geestelike volmaaktheid, wat so ‘n wesenlike deel van hul bediening uitmaak” te verdiep. Die priesterlike bediening het die pous gesê: “behels die getroue navolging van dié nuwe lewe en leefwyse wat deur die Here Jesus begin is en deur sy Apostels as hul eie aangeneem is”. Die pous het klem gelê op die “onmisbare stryd om morele volmaaktheid wat in elke egte priesterlike hart heers”. Priesters speel so ‘n groot en noodsaaklike rol in die lewe en sending van die Kerk en sonder priesters sou daar geen Eucharistie en in wese geen Kerk wees nie. In dié jubeljaar beplan die pous om St. Jean Vianney tot beskermheilige van alle priesters uit te roep. Huidiglik word hy vereer as die beskermheilige van parogiepriesters.

Jean-Marie Baptiste Vianney is op 31 Mei 1925 deur pous Pius XI tot heilige verklaar. Sy feesdag word op die 4de Augustus gevier. Jean Vianney is in 1786 in Dardilly naby Lyons in Frankryk gebore. Sy ouers was eenvoudige kleinboere en Jean het tot op die ouderdom van 18-jaar as skaapwagter sy brood verdien. Sy skoolopleiding was maar skraps en gevolglik het hy groot moeite gehad om sy priesterlike studies te voltooi. Hy het gesukkel met die Latyn en moes sy finale eksamens tweekeer herhaal. Uit eindelik is hy tog op 29-jarige ouderdom tot priester gewy. In 1817 is hy aangestel as parogiepriester van Ars. Hy sou 25 jaar lank onvermoeid in dié dorp arbei en ‘n ware sieleherder word wie se liefde vir sy kudde ver en wyd bekend sou word. Hy het soggens om eenuur begin om mense se bieg aan te hoor en hy het dikwels tussen 13 en 17 ure in die biegkamertjie deurgebring. Hy sterf op 4 Augustus 1859 en talle wonderwerke is al aan sy voorspraak toegeskryf.

Die Oratorium van St. Filip Neri - Oudtshoorn :: God is ons Erns
 
 Tuisblad
 Home Page
 Gepubliseerde Artikels
 Ons Oratorium
 Our Oratory
 Kuns & Beeldhouwerk
 Pastoraal
 Pastoral
 Gebruiksbepalings
 & -Voorwaardes
© Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn
Die eerste Oratorium in Afrika – Kerkwetlik opgerig 1997
Webmeester Vernon Meyer | Web-gasheer JCW Hosting