Die gebruik om Jesus se sewe laaste woorde aan die kruis te oorpeins, is ‘n baie ou Vastyd tradisie. Dit gaan nie oor presies sewe woorde nie, maar oor die sewe kere dat Onse Heiland in sy lyding aan die kruis iets geuiter het. Ons vind dié sewe uitsprake van Jesus in die verskillende Evangelies, hoewel nie een enkele Evangelie al sewe opgeteken het nie. Dit is byvoorbeeld net in Johannes se Evangelie dat ons lees hoe Jesus sy moeder aan die sorg van die apostel Johannes toevertrou het. Die oorsprong van dié tradisie van Jesus se Sewe Laaste Woorde dateer uit die 10de eeu, maar dit was eers in die laat 19de eeu dat dié devosie sy huidige vorm verkry het. In baie kerke vorm dié devosie deel van hul Goeie Vrydag aanbidding. Die volgende uiteensetting kan individueel of in ‘n groep as gebedsdiens gebruik word. V. O God, haas ons tot hulp. R. O Here, wees ons bystand. V. Eer aan die Vader, en aan die Seun en aan die Heilige Gees. R. Soos dit in die begin was, so ook nou en altyd, tot in alle ewigheid. Amen. Eerste Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding van die kruis verduur. Op dié manier kon U my van my sondes verlos en my van die ewige straf wat my toekom kwytskeld. Ek bid dat U barmhartigheid sal betoon aan almal wat sterwend is. En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my opregte berou vir al my sondes en help my om nooit my eie wil bo u Wil te stel nie. My God, ek glo in U en in U alleen plaas ek al my hoop en verlange. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Tweede Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding van die kruis verduur. Tog het U onmiddellik en met soveel sorg en liefde gereageer op die Goeie Dief, toe hy U as die Seun van God erken het. Ontferm U net so oor my en alle gelowiges in hul uur van angs. En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my siel ‘n vaste geloof wat my nooit sal faal nie. Laat die versoekinge van die bose my nie verlei nie en gee my die krag om die paradys altyd voor oë te hou. My God, ek glo in U en in U alleen plaas ek al my hoop en verlange. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Derde Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding van die kruis verduur. Selfs in u oomblik van allergrootste pyn het U nog altyd aan my gedink en my ‘n Moeder gegee wat altyd my belange op die hart sal dra. Deur haar gee U ons nog ‘n verdere waarborg van u liefde en sorg vir ons. Gee my die krag om my vertroue in U te plaas. Laat my vertroue U die leiding van my lewe gee. Ontferm U oor my en almal wat in doodsangs verkeer. Laat ek reken op die kragtige voorspraak van u Moeder, Maria. En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my hart die vaste vertroue dat U my nooit in die steek sal laat nie. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Vierde Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. U lyding was nie net liggaamlik van aard nie - hoe vreeslik dit ook was – geestelik moes U verduur hoe U op daardie pynlike oomblik deur u Ewige Vader verlaat is. Selfs dit het U vir my gedoen. Daardeur het U die hel ervaar van hoe dit voel om van God geskei te wees. En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my die krag om enige pyn en lyding te verduur, selfs waar ek verlate van God voel, sodat ek ten einde laaste my ewige geluk by U sal vind. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Vyfde Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. Die woedende maalstroom van u Passie was nie genoeg om u liefdevolle hart se dors te les nie. Is ek dors vir die waarheid, is ek dors vir geregtigheid, is ek dors ek vir die ware lewe, dors ek met my hele hart na Jesus? En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my die vuur van u goddelike liefde dat my hele wese sal dors, sal smag om vir ewig by U te wees. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Sesde Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. Hoe wonderlik om te weet dat U ons verlossingswerk volbring het – dat dit vir eens en altyd afgehandel is. Ons, wat die kinders van u toorn en verdoemenis was, is nou u aangenome kinders, erfgename van die hemel. Begryp ons dié groot waarheid – leef ons dit uit? En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my die krag om dié verganklike wêreld en al sy versoekinge af te sterf – gee my die krag om nee te sê vir my eie verkeerde begeertes en verlangens. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Sewende Woord Liewe Jesus, uit liefde vir my het U dié verskriklike lyding aan die kruis verduur. Aan die kruis het U die hoof gebuig en u asem uitgeblaas om my te red; sodat ek nooit weer my kop voor die sonde hoef te buig nie, nooit my laaste asem vir die verderf hoef uit te blaas nie. En wanneer ek op my sterfbed lê, smeek ek U, dat ek deur u Kosbare Bloed, wat om my ontwil uitgestort is, die ewige verlossing sal verkry. Gee my dié genade om my eie hart aan U te offer, om my lewe, my gees aan U te bied. Laat my lewe en my dood U behaag. Help my om U van harte lief te hê en die sonde met my hele hart te verafsku. Slotgebed om die voorspraak van Onse Moeder van Smarte Allerheilige Moeder van Smarte, drie ure lank het u aan die voet van die kruis gestaan en die doodsangs en sterwe van u Geliefde Seun aanskou. Staan my by in my uur van smart, in my oomblik van nood en angs. Ook ek is ‘n kind van smarte en waar ek voor my eie kruislyding te staan kom, bid ek om u kragtige voorspraak. Help my sodat ek waardig bevind mag word om vir ewig in die heerlikheid van u Goddelike Seun te deel. V. Van ‘n skielike en onvoorbereide dood. R. Bewaar my, o Heer. V. Van die lokvalle van die duiwel. R. Bewaar my, o Heer. V. Van die ewige dood. R. Bewaar my, o Heer. |
|
|
|||||||||
|
|
|
|
|
© Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn
Die eerste
Oratorium in Afrika – Kerkwetlik opgerig 1997
Webmeester Vernon Meyer | Web-gasheer JCW Hosting
|