Sonder ‘n goed gevormde gewete is dit onmoontlik om ‘n lewe van geloof te lei. Dit is jou gewete wat jou in staat stel om ‘n morele lewe te lei. Vir ‘n Katolieke Christen is dit dus van wesenlike belang om te verstaan hoe die gewete werk en hoe ‘n mens jou gewete kan opvoed en vorm. Elke mens beskik oor ‘n gewete. God het elkeen van ons ‘n gewete gegee sodat ons in vryheid die regte keuses kan maak: ‘Wanneer die versigtige mens na sy morele gewete luister, kan hy God hoor praat’ (KKK 1777). Die gewete is dus die basiese vermoë om drie dinge te kan doen: (1) Dit herinner ons om die goeie te doen en die bose te vermy; ‘n Mens se gewete is dus ‘n kragtige instrument en as daar iets skort met jou gewete kan jy in groot moeilikheid beland. Ons gewete het dus te doen met hoe ons deur middel van ons verstand spesifieke situasies oordeel en besluite neem. Wat ons die ‘morele lewe’ noem gaan oor hoe ons moet lewe om God se Wil te kan doen en vir ewig gelukkig by Hom te kan wees. Die gewete help ons om die regte besluite en keuses te maak sodat ons ‘n goeie morele lewe kan lei. Wanneer ons dus sê: “Ek volg my gewete”, dan bedoel ons dat ons gewete in staat is om te kan onderskei tussen goed en kwaad en dat ons in daardie spesifieke geval die goeie kies. Van kleinsaf moet ons gewete egter opgevoed en gevorm word sodat dit betroubaar is en ooreenstem met dit wat ons geloof ons leer. Ons noem iemand wat iets verkeerd gedoen het en geen berou toon nie ‘n ‘gewetenlose skurk’ en daarby bedoel ons dat so ‘n persoon se gewete foutief of onontwikkeld of swak gevorm is. Dit beteken dat so ‘n persoon nie eintlik tussen goed en kwaad kan onderskei nie en dus nie in staat is om die regte lewenskeuses of besluite te neem nie. Onthou: My gewete is nie die WAARHEID nie, my gewete is die instrument wat my in staat stel om die WAARHEID te volg en te doen. ‘n Gewete wat goed gevorm is stem altyd ooreen met dit wat Christus ons deur die Kerk leer. As Katolieke Christene is dit dus ons plig om toe te sien dat ons weet wat God van ons verwag en dat ons gewetens daarvolgens gevorm word. Jesus waarsku ons teen ‘n gewete wat swak gevorm is: ‘Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as die oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!’ (Matteus 6: 22-23). Ons gewete kan dus foute begaan en die volgende redes verduidelik hoekom ‘n mens se gewete dalk nie in staat om die regte leiding aan jou lewe te gee nie: ‘n Swak gevormde gewete; Dié dinge kan daartoe lei dat ons gewete nie behoorlik funksioneer nie. Ons lewens word gevorm deur die goeie of slegte besluite wat ons neem – die goeie of slegte dade wat ons doen maak ons wie ons is. Deur ons aksies kies ons God of verwerp ons Hom. Om God te kan kies moet ons handelinge/dade goed wees. Hoe meer goeie dinge ons doen, hoe groter word ons vryheid om nog meer goeie dinge te kan doen – op dié manier word ons heilig en kan God se genade deur ons werk sodat ons inderdaad ‘kinders van God word, aangenome seuns, deelnemers aan die goddelike natuur en aan die ewige lewe’ (KKK1996). Ons morele gewete is die sleutel wat die Christelike lewe moontlik maak, daardeur weet ons watter keuses om te maak en deur die regte/goeie keuses te maak groei ons in God se liefde en genade. Selfs wanneer ons faal en ‘n verkeerde keuse maak roep ons gewete ons op om God se barmhartige vergifnis te vra, sodat ons weer opnuut kan begin! |