LECTIO DIVINA
Inleiding
Die antieke gebruik van Lectio Divina (hé hagia lexis in Grieks) is ‘n manier van Bybellees en omgaan met die Heilige Skrif wat ons in staat stel om God in die Skrifteks te ontmoet, of nog beter, onsself al hoe lesende oopstel vir Hom en sy handeling in ons lewe. Lectio divina (Latyn vir goddelike of geestelike lees) dateer uit die tyd van die eerste Kerkvaders omstreeks 300 n.C. Die vier stappe waaruit Lectio Divina bestaan, is die eerste keer in 1173 vasgelê deur die monnik Guigo Cartujo. Dié stappe: Lectio (Lees), Meditatio (Oorweging, oorpeinsing of meditasie), Oratio (Gebed) en Contemplatio (Kontemplasie of beskouing) bly tot vandag toe onveranderd, al is daar verskillende maniere waarop dit toegepas kan word. Lectio Divina bied ons ‘n metode om die Heilige Skrif op ‘n praktiese en dinamiese manier te lees. Beide pous Johannes Paulus II en pous Benedictus XVI het gelowiges al by verskeie geleenthede aangemoedig om van dié antieke Bybellees-metode gebruik te maak. Deur Lectio Divina word die rykdom van Bybelse waarhede binne die bereik van gewone Christene geplaas. Met dié metode word gelowiges uitgenooi om die Bybel te lees, te verstaan en meer na waarde te skat. Lectio Divina maak dit moontlik vir ‘n mens om persoonlike lewenslesse en leiding te vind in die onderig van die Here Jesus. Die doel van Bybellees is om die Here Jesus persoonlik te ontmoet en Hom toe te laat om ons lewe te verander sodat ons deur die werking van die Heilige Gees al hoe meer soos Hy sal optree en word.
Oorsig en toepassing
Lectio Divina is in essensie gewoon ‘n eenvoudige manier om die Heer te ontmoet deur na te dink en te bid op basis van dit wat in die Heilige Skrif staan. Dit is eintlik nie ‘n studiemetode nie – enige agtergrondkennis van die Bybel kan wel nuttig wees, maar is nie noodsaaklik nie. Tradisioneel het Lectio Divina uit drie stappe bestaan: Lees, oorweging en bid. Met verloop van tyd is daar verskillende variasies met verdere stappe uitgewerk. Die mees algemene vorm is dié van vier stappe. Die vierde stap (contemplatio wat kontemplasie of beskouing beteken) voeg ‘n ekstra dimensie toe aan die derde stap Oratio (bid). Dit is belangrik om te onthou dat dit die doel van Lectio Divina is om God te ontmoet, nie om die een of ander metode slaafs na te volg nie. Soms sal ons waarskynlik nie by al vier stappe uitkom nie. Wanneer ons bewus word dat die Here besig is om ons ‘n ingewing te gee of met ons te praat, moet ons halt roep en die nodige tyd neem om na Hom te luister. ‘n Mens kan Lectio Divina as individu beoefen of as groep saam doen.
Hoe om Lectio Divina individueel te beoefen
1. LECTIO - LEES
Om die Skrifteks vanuit ‘n nederige, biddende houding te lees vorm die basis vir alles wat volg en verg tyd. Begin dus met ‘n gebed en vra die Heilige Gees om jou in die hele waarheid te lei (Johannes 16: 13). Lees die Skrifgedeelte stadig en aandagtig deur. Op hierdie stadium is dit belangrik dat jy jouself nie laat aflei deur enige Bybelkommentare oor die betrokke teks nie.
Sorg dat jy ‘n pen en papier byderhand het. Onderstreep of skryf dié woord of sinne neer wat jou opval. Skryf ook enige vrae neer wat by jou opkom. Lees die Skrifgedeelte ‘n paar keer deur – jy kan dit selfs een keer hardop voorlees. Gun jouself die nodige tyd om die woorde mooi te begryp en na waarde te skat. Daarna kan jy miskien ‘n Bybelkommentaar lees en dit met jou eie eerste gedagtes vergelyk.
2. MEDITATIO – OORWEGING/OORPEINSING
Die Meditatio help ons om die Skrifgedeelte te waardeer en die rykdom daarvan te ontdek deur die tekste te oorpeins. In 2 Timoteus 3: 16 staan: ‘Elke Skrifteks is deur God geïnspireerd en kan gebruik word om onderig te gee, om dwalinge en foute te weerlê, en om op te voed tot ‘n deugsame lewe.’ (Nederlandse Nieuwe Bijbelvertaling).
Lees die Skrif in die vertroue dat God met jou sal praat. Hy sal miskien ‘n aspek van jouself aan jou openbaar. Hy sal jou miskien wys hoe jou houding of denkwyse op die een of ander manier moet verander. Hy sal jou miskien ‘n belofte maak om jou te bemoedig en te versterk.
Gebruik jou verbeeldingskrag: Probeer om jou die situasie soos dit in die Bybelteks beskryf word voor te stel. Plaas jouself in die betrokke toneel en verbeel jou dat jy deel uitmaak van die verhaal. Luister na wat daar gesê word, kyk na hul reaksies, probeer jouself in te leef in hul gevoelens. Keer telkens terug na Jesus. Probeer om Hom te leer ken, vind jou blydskap in Hom, staan verwonderd oor sy woorde, sy aksies, sy antwoorde en reaksies – alles wat met Hom te make het.
Stel vrae: Gebruik enige vrae wat jy dalk mag hê om na te dink oor die betrokke Skrifteks. Wat wil God vir jou daarmee vertel? Vra jouself af wat Jesus nou eintlik gedoen en gesê het. Gee jouself tyd om stil te word, om te luister en die antwoorde te ontdek.
Laat God se woord ‘n spieël vir jou wees: In die Bybel lees ons oor die lewe van Jesus Christus en hieruit leer ons hoe om ons lewens waar nodig op verskillende vlakke te verander. Ons sien hoe ons God se woord kan toepas op ons daaglikse lewe, as persoon, as deel van ons gemeenskap en samelewing. In God se woord vind ons beloftes en bemoediging, uitdagings en eise. Indien ons onsself oop stel vir God sal ons gevoed en bevry word om volkome mens en waarlik lewend te wees.
3. ORATIO – BID
Gebed bestaan uit ‘n gesprek tussen God en ons. In die psalms sien ons hoe die outeurs hul gevoelens by God uitstort. Hul hoop, hul drome en hul angste kry vrylik uiting voor sy aangesig. Die eerlikheid wat so ‘n kenmerk van die psalmdigters is, word deur God gehoor. Hy waardeer die feit dat ons ons op Hom beroep, al kan ons in werklikheid niks vir Hom verberg nie. Ons kan die woorde van die antwoord- of beurtpsalm (in die liturgie van die Heilige Mis) gebruik of ons eie woorde om ‘n openhartige gesprek te voer met ‘n heel spesiale Vriend.
In ons gebed gee ons ‘n antwoord op dit wat ons uit God se woord oor ons huidige lewe geleer het. Nou kan ons dit wat in ons eie lewe en in ons omgewing aan die gebeur is voor God bring. Ons luister en ons praat, ons luister en ons oorpeins – in kommunikasie met God.
4. CONTEMPLATIO – KONTEMPLASIE OF BESKOUING
Die laaste stap is kontemplasie wat ook as beskouing of selfs ‘rus-in-God’ omskryf kan word. Dié stap gee ‘n ekstra dimensie aan ons gebed. Kontemplasie gee ons die kans om ‘n tyd van innige gemeenskap met God te hê. Wees stil voor God en nooi Hom uit. Hier is geen woorde meer nodig nie, rus in sy aanwesigheid en geniet die feit dat Hy jou so geweldig liefhet. Laat God toe om jou te verkwik.
Hoe om Lectio Divina in ‘n groep te beoefen
1. LECTIO - LEES
Probeer een of meer van die volgende leesmetodes uit op die Skrifgedeelte om te sien watter een die beste by u groep pas.
Individueel lees: Gee elkeen die tyd om self die Skrifgedeelte in stilte deur te lees.
Voorlees uit die woord van God: Een persoon lees die Skrifgedeelte voor en die ander luister.
Twee of meer lesers: Twee mense lees elkeen om die beurt een stuk van die betrokke Skrifteks. Andersins kan elkeen in die groep een vers van die Skrifteks voorlees. Op dié manier word elke lid van die groep by die Bybellees betrek en dit kan die lees aantrekliker en dinamieser maak.
Luisterfragment: Gebruik ‘n klankapparaat om ‘n opname van die Skrifteks aan die aanwesiges voor te speel.
Rolspeel: Indien die teks dit toelaat kan dit as ‘n toneelstuk deur die groeplede vertolk word. Dit is miskien die mees lewendige manier van lees en kan ons help om die woorde van die verskillende persone meer in hul konteks te sien.
2. MEDITATIO – OORWEGING/OORPEINSING
* Vir ‘n groep is dit van belang dat elkeen die kans kry om aktief betrokke te wees en te deel wat die Here aan hom/haar persoonlik vertel. Die Heer spreek deur sy woord, maar ook deur ons broers en susters. Wanneer ons dus na hulle luister moet ons ons harte oopmaak vir die stem van God wat deur hulle tot ons kom.
* Dit is belangrik dat elkeen in die groep besef dat die meedeling van insigte dit as doel het om mekaar op te bou en ons eie ervaring met dié van ander te verryk. Dit is nie nodig dat almal altyd oor alles saamstem nie, maar dit is werklik belangrik om te verhoed dat die Bybellees in ‘n groepsbespreking of selfs konflik ontaard. Die Here ken elkeen van ons persoonlik en het dus vir elkeen van ons ‘n unieke, persoonlike boodskap wat van toepassing is op daardie spesifieke oomblik in ons lewe.
* ‘n Mens kan met ‘n eenvoudige vraag begin soos: ‘Wat tref jou in die Skrifteks?’ Die bedoeling is dat elkeen gemaklik sal voel en bereid sal wees om te vertel hoe die teks hom/haar persoonlik inspireer. Probeer gedurig om op ‘n vriendelike manier die groep se aandag te hou op die Skrifteks en op wat God wil sê.
3. ORATIO – BID
Gee die lede van die groep die kans om stil in hulself tot God te bid. Gee hulle ook die geleentheid om hardop en in hul eie woorde te bid. Dit moet ons doel wees om te probeer verseker dat elkeen van die groepslede in dié tyd in persoonlike gebed met God verkeer.
4. CONTEMPLATIO – KONTEMPLASIE OF BESKOUING
Kontemplasie is in essensie ‘n uiters persoonlike oefening en daarvoor is stilte absoluut noodsaaklik. Indien die ruimte dit toelaat sou dit goed wees dat elkeen van die groepslede alleen êrens gaan sit om so in God te rus. |