Oudtshoorn,
19 Januarie 2008: In Desember 2007 het die Oratorium
besoek gekry van ‘n vriendin uit België, Josiane
Ulrikx en wat ‘n besonderse Kersgeskenk het sy nie
saamgebring nie. Wel wetende dat beelde van St. Filip Neri
haas onbekombaar is, het sy ‘n bekende Belgiese beeldhouer,
Noels Ludo, opdrag gegee om ‘n beeld van die heilige
Filip Neri te maak. Die beeldhouer is van advies bedien
deur Vr. Hans Tercic, skrywer van ‘n uitstekende boek
oor St. Filip Neri en kenner van die lewe van die Stigter
van die Oratorium. Die merkwaardige lewensgetroue beeld
staan 1.2 meter hoog en is uit poliëster gegiet. Dit
is inderdaad ‘n kunswerk van die hoogste gehalte en
dit beklee nou ‘n ereplek in die Oratoriumkapel.