| |
Wat
is 'n Oratorium?
Soos enige persoon
met selfs 'n beperkte kennis van Latyn sal kan aflei, hou die woord
‘oratorium’ duidelik verband met gebed; die Latynse
woord ‘orare’ beteken dan bloot ‘om te bid’.
Dus is 'n 'oratorium’ 'n plek waar daar gebid word, in
welke geval elke kerk of kapel of vertrek waar gebed plaasvind, by regte
'n ‘oratorium’ genoem kan word. Tog sal die menigte
Afrikaanse mense wat Londen al besoek het, bewus wees dat daar 'n baie
groot en beroemde kerk digby die Victoria en Albert Museum is, wat bekend
staan as die Brompton Oratory oftewel Brompton Oratorium. Ons het hier
dus duidelik met 'n eienaam te make en wel met 'n naam wat vir vierhonderd
jaar al 'n amptelike en byna gespesialiseerde tipe plek, of gebou, of
groep mense aandui.
Die Kongregasie
van die Oratorium van Sint Filip Neri is die amptelike naam
van 'n organisasie wat volgens Kerkreg as 'n Genootskap van die
Apostoliese Lewe omskryf word. By die aanhoor hiervan sal baie
Katolieke geneig wees om te sê: "O, dit is dan 'n tipe
orde soos die Dominikane of Jesuïete". Nee, dit is definitief
nie die geval nie - 'n Oratorium (met 'n hoofletter gespel) is 'n groep
sekulêre priesters en lekebroers wat saam in 'n gemeenskap woon.
Oratoriane is dus nie religieuse of kloosterlinge of ordepriesters nie.
'n Oratorium het eintlik nie 'n reël in dieselfde sin as byvoorbeeld
die Reël van Sint Benedictus of die reëls van die
verskillende ordes nie. Alhoewel elke Oratorium in die wêreld
onderhewig is aan die Konstitusies en Algemene Verordeninge van
die Kongregasie van die Oratorium soos deur die Pouslike Stoel
goedgekeur, word elke huis as 'n outonome entiteit bestuur en het elke
huis dan 'n selfopgestelde reël of soos dit bekend staan, Eie
Verordeninge. Dié Eie Verordeninge is eerder 'n
samestelling van huisgebruike as ’n kloosterreël. Elke kerkwetlik
opgerigte Oratoriaanse gemeenskap is dus ’n aparte en outonome
kongregasie.
Iemand wat by 'n
Oratorium aansluit word 'n Oratoriaan genoem en alhoewel hy in wese
'n lekebroer of 'n sekulêre priester sal wees besit sy lewe sekere
eiesoortige kenmerke wat hom heel duidelik van religieuse oftewel lede
van ordes, sowel as van sy mede-bisdomspriesters onderskei. 'n Oratoriaan
sluit by 'n betrokke huis aan met die ernstige voorneme om die res van
sy lewe in dié gemeenskap te bly en om in die besondere bediening
van dié huis waarby hy aangesluit het te arbei. Ooreenkomstig
die bedoeling van St. Filip Neri om ‘vrye mense in ’n
vrye huis’ te hê, word hierdie voornemens egter nooit
deur 'n formele eed of gelofte of selfs tydelike beloftes bekragtig
nie. In troue navolging van hul Stigter, Sint Filip Neri, word Oratoriane
slegs deur die band van broederlike liefde aan mekaar en aan hul huis
gebind.
Hier het ons dan
die twee basies beginsels wat die Oratoriaanse lewe uniek maak en van
alle ander bedieninge in die Kerk onderskei: eerstens is elke Oratorium
'n selfregerende eenheid; en tweedens is elke Oratoriaan volkome vry
in die sin dat hy ter eniger tyd sy gemeenskap kan verlaat en byvoorbeeld
by 'n bisdom of religieuse orde kan aansluit.
|
| |
Sint
Filip Neri en die ontstaan van die Oratorium
Sint Filip Neri
is op die 21ste Julie 1515 in Florence, Italië gebore en daar word
vertel dat hy tot aan die einde van sy lewe nog as 'n tipiese Florentyn
geëien kon word; soos sy stadsgenote was hy bekend vir sy fynsinnige
kultuursmaak asook sy groot liefde vir vryheid. As 'n jongman het hy
die kans om 'n ryk erfporsie te bekom verruil vir 'n onsekere en armoedige
bestaan in die groot stad Rome waar hy in 1535 arriveer en waar hy tot
en met sy dood sou woon. Die onervare jongeling verdien aanvanklik sy
skamele brood deur die twee seuns van 'n mede-Florentyn te onderrig.
Daar was 'n tipe
baldadigheid in Sint Filip se karakter wat van vroeg af al tot uiting
gekom het in sy voorliefde vir grappies en sy lekker lag. Sy innemendheid
en sjarme het hom gou laat vriende maak. Sy aantreklike en selfs aanloklike
persoonlikheid het hom altyd in situasies geplaas waar mense hom om
raad kom vra het of bloot onder sy vriende gereken wou word. Filip het
hierdie situasies en al sy menseverhoudinge met soveel deernis tot die
groter eer van God gebruik dat selfs die ongelowigste mense hom nie
daarvoor verkwalik het nie. Op die strate en pleine van Rome het hy
gou bekend geword as Pippo Buono, oftewel, "Goeie
ou Filip". Hy was net so bemind om sy persoonlike heiligheid
as vir sy vrolike streke waaraan niemand, ongeag rang of stand, ontkom
het nie. Die mense van Rome kon partykeer maar net oopmond staar wanneer
Filip, oënskynlik onverskillig, met iemand se opgeblase waardigheid
die draak gesteek het. Dié ongehoorde kombinasie van grapjas
en heilige had ‘n onwaarskynlike, maar gewenste uitwerking, want
spoedig het almal met wie hierdie plesierige Florentyn in aanraking
gekom het, hulself weer in alle erns tot God gewend. Bo alles was Filip
se lewe gevul met opregte menseliefde en het hy oor fyn en diep mensekennis
beskik. Filip het 'n verbasende insig in die menslike karakter gehad
en hy was maar net al te bewus van hoe dikwels dié basiese empatie
met menswees die kerklike gebruik van sy tyd ontgaan het. Daar word
vertel dat Filip, toe hy alreeds ’n ou man was, by geleentheid
deur sy getroue dissipel Baronius (later die beroemde kardinaal) daarop
attent gemaak is dat daar buite op straat 'n groep raserige seuns aan
die speel was. Filip se antwoord op hierdie klagte was: " Solank
as wat hulle nie met sonde besig is nie, kan hulle selfs hout op my
rug kom kap."
Daardie vroeë
jare in Rome was vir Filip 'n tyd van groei in dié diep bewustheid
van God wat hy reeds as kind gehad het. Met alle erns het Filip homself
daaraan toegewy om die duisternis en oënskynlike doelloosheid van
ons aardse bestaan te probeer begryp. Hy het veral lang ure, partykeer
selfs dae, in gebed deurgebring. Filip was 'n mistikus - iemand wat
waarlik die grootste genot daaruit geput het om alleen met God te verkeer.
Een van sy geliefkoosde gebedsplekke was die antieke katakombes met
hul bloedige geskiedenis van hoe die Christengeloof moeisaam ’n
vastrapplek in die ou heidense Rome van die keisers gevind het. Deur
sy vasberade soeke om die doel van sy eie lewe te ontdek en veral deur
sy volharding in gebed het Filip stadigaan bewus geword van die rol
wat hy geroepe was om te speel in die groter Godsbestel. Sy eeu was,
net soos ons s'n vandag, behep met die tydelike en verbygaande aardse
vreugdes en kwellinge, sonder enige besef dat dié komplekse en
verwarrende wêreldse bekoring totaal oorskadu word deur die eenvoudige
en ewige waarhede van die lewe en die dood. Ná ’n aantal
jare, waartydens sy lewe veral deur sy alleenheid en gebed gekenmerk
is, het die teruggetrokke aard van Filip se bestaan begin plek maak
vir 'n daadkragtige Woordgerigte bediening wat weldra op groot skaal
mense na hom toe aangetrek het: Filip word nou 'n mistikus in aksie.
St. Filip het nie
op die straathoeke gestaan en preek en skreeu nie – dit was nie
in sy geaardheid of roeping nie. Hy was wel deurentyd op straat waar
hy mettertyd ’n bekende en beminde gesig geword het. Op straat
het hy etterlik met almal gesels – met die bejaardes het hy die
sonkolletjies uitgesoek en lank gesit en na hul lewensverhale geluister;
die siekes en sterwendes het groot vertroosting uit sy besoeke geput;
met die jonges en kleintjies het hy grappies gemaak en deelgeneem aan
hul speletjies. Gou het daar om St. Filip ’n groepie jong metgeselle
ontstaan – ’n klomp jongmanne (onder wie etlikes uit die
welgestelde en opgevoede laag van die bevolking) wie se lewens, wat
voorheen redelik doelloos was, nou betekenis gekry het. Filip het bekend
geraak as die Romeinse Sokrates vanweë sy gemaklike
manier met jongmense en sy wonderlike vermoë om diepsinnige waarhede
by die jonger generasie ingang te laat vind. Filip had die gawe om tot
die mees selfgerigte en materialisties-georiënteerde jongmensharte
te spreek en hulle as't ware met 'n Godsbesef te oorrompel. Hierdie
ywerige Godsbende, wat net soos Filip almal leke was, het daagliks vir
geselsies en gebed byeengekom. Hulle was vroom in die beste sin van
die woord, sonder om dweperig of oordelerig te wees. Uit hul gedeelde
vriendskap en liefde vir hul mentor sou daar nou ’n beweging ontstaan
met verreikende gevolge vir die hele Kerk.
Rome was die hoofsetel
en hart van die Christendom, maar dié hart het by tye bra flou
geklop. Die Christelike geloof was deel van die hele Europese kultuur
en samelewing, maar by baie het dit nie veel verder as dit gestrek nie.
Soos in ons eie tyd was die Christelike geloof by talle mense nie veel
meer as ’n aantal oulike kulturele gebruike nie. Ná soveel
eeue waartydens die Christelike geloof letterlik die aangesig van Europa
onherroeplik verander het, was die persoonlike belewenis van Christus
as Verlosser, dikwels begrawe en verdoesel onder konvensies en gebruike
wat mense net nie meer op ‘n persoonlike vlak uitgedaag het nie.
Die ongesonde vermenging van Kerklike gesag met staatsmag en die meegaande
korrupsie wat dit teweeggebring het, het groot skade aangerig aan die
manier hoe baie mense die doel van Christus se Kerk op aarde beskou
het. Ver in die noorde, vanuit Duitsland het onrusbarende gerugte gekom
van ’n grootskaalse verset teen die Kerk. Die Protestantse Hervorming
het die Christendom geskeur en baie opgevoede mense sinies gemaak oor
hul geloof. Gou het die sogenaamde hervormers onder mekaar begin stry
en sonder die sentrale gesag van die Opvolger van St. Petrus het die
Protestantse beweging versplinter in honderde groeperinge wat onderling
baklei het. Van Christeneenheid en veral van geloofseenheid was daar
nie meer sprake nie. Die drukkuns het vir die eerste keer die Heilige
Skrif toeganklik gemaak vir alle geletterde mense, maar sonder ’n
gesaghebbende struktuur om die Bybel te interpreteer het elke Jan Rap
en sy maat nou ’n pous in eie reg geword met dikwels bisarre gevolge.
Die Kerk Konsilie van Trente (1545-1563) het die onbetwisbare waarhede
van die Christelike geloof in ’n moderne idioom vasgelê
en so die vloed van kettery gestuit, maar dit sou nog ’n aantal
jare duur voordat dié hoë teologie op voetsoolvlak mense
se lewens sou begin aanraak.
As St. Paulus die Eerste Apostel van Rome was wat dié heidense
wêreldstad tot kern van die Christendom omskep het, dan was St.
Filip Neri die Tweede Apostel van Rome wat die korrupte renaissance
pouslike hof deur sy invloed tot model van godvresendheid sou omskep.
Deur hul beoefening van verskillende volksdevosies, waaronder die nuwe
Veertigure, en hul stedelike pelgrimstogte in en rondom Rome (veral
die besoek aan die Sewe Basilieke van die Heilige Stad) het St. Filip
en sy volgelinge ’n massa beweging onder die gewone mense begin
wat mettertyd die adel en hoë klerus betrek het. Vir die Heilige
Jaar van 1550 het St. Filip-hulle die Genootskap van die Heilige
Drie-eenheid opgerig om na die arm pelgrims, waarvan Rome so vol
was, om te sien. Tydens die Veertigure wat in al die groot kerke van
Rome gehou is, was dit die gebruik dat Filip kort prekies sou lewer
en hieruit het die geestelike oefeninge gegroei waaruit daar later die
eerste kongregasie van die Oratorium sou ontstaan. En so het agtien
jare van Filip se lewe verby gesnel.
Op aandrang van
sy biegvader het Filip (wat homself as totaal onwaardig daarvoor beskou
het) uiteindelik ingestem om tot priester gewy te word. Na sy wyding
het hy sy pastorale bediening by die kerk van San Girolamo begin.
Nou was hy nog meer as ooit tevore in aanvraag en gou moes 'n spesiale
vertrek op die solder van die kerk ingerig word om die geestelike oefeninge
van sy groep te huisves. Dit was aan hierdie gebedsvertrek oftewel oratorium
dat die latere Kongregasie sy naam ontleen het. Behalwe die aanhoor
en uitlê van die Heilige Skrif, is daar musiek gemaak en het dié
byeenkomste ’n groot menige mense gelok wat lede van die Pouslike
Hof, sowel as die plaaslike werkloses en studente ingesluit het. As
biegvader was Sint Filip so gewild dat hy saans voor hy gaan slaap het,
sy kamersleutel onder sy deur geplaas het sodat die eerste biegteling
hom vroeg in die oggend kon wakker maak en hy sy lange ure in die bieghokkie
kon begin.
Die oratorium of
geestelike oefeninge het daagliks plaasgevind. Gewoonlik was dit in
die namiddag, wanneer die jongmense van Rome daarvoor berug was om vir
kwaadgeld in die lome somerdae deur die strate rond te slenter. Daar
is gewoonlik met ’n voorlesing uit die een of ander geestelike
boek begin, en hieruit het die onderwerp gekom vir die middag se gesprek.
Dit is opgevolg deur die lewensverhaal van 'n heilige, waarna daar 'n
stuk Kerkgeskiedenis voorgelees is. 'n Mens moet in gedagte hou net
hoe ongewoon hierdie oefeninge was in 'n tyd toe preke berug was vir
hul hoogdrawende en bombastiese barok-redevoering. Die hele atmosfeer
van dié samekomste was gemoedelik en opgeruimd. Daar was altyd
musiek op Sondagmiddae en musici en komponiste van die statuur van Palestrina
en Victoria was ten nouste gemoeid met dié gebeurtenisse. Sint
Filip had 'n absolute renons in tweegesigte of enige aanstellerigheid.
Hy kon dit nie verdra dat godsdiens met swaarmoedigheid beoefen word
nie en het altyd gesê dat hy geen melankolie of gewetensbeswaardheid
in sy huis sal duld nie. Na dié samekomste het Sint Filip en
sy volgelinge gewoonlik hospitale en inrigtings vir siekes besoek, waar
hul aansteeklike vrolikheid en vroomheid groot in aanvraag was. Binnekort
het Filip van sy metgeselle ook tot priesters laat wy aangesien die
werklading vir hom net te veel geraak het. In 1575 bewillig Pous Gregorius
XII die ou kerk van Santa Maria in Vallicella aan Sint
Filip-hulle. In dieselfde jaar is die gemeenskap wat om Sint Filip tot
stand gekom het, amptelike erkenning gegee deur 'n Pouslike Bul wat
op die 15de Julie uitgevaardig is en waarvandaan die stigting van die
Kongregasie van die Oratorium gedateer word. Ook in dié jaar
is die ou kerk gesloop en is daar begin met 'n nuwe kerk oftewel "Chiesa
Nuovo" op Italiaans, 'n naam wat die kerk vandag nog dra
en die plek wat steeds die setel van die Romeinse Oratorium is.
|
| |
Die
groei en verspreiding van die Oratorium
Sint
Filip het sterk klem gelê op die belangrikheid van gebed; sowel
privaat- as liturgiese gebed; die lees van geestelike lektuur, veral die
evangelies; 'n gereelde gebruik van die Bieg en ontvangs van Heilige Kommunie
en 'n daaglikse aanhoor van die Woord van God. Hierdie kenmerke van die
Oratorium het bygedra tot die vinnige verspreiding van die idees en leefwyse
van Sint Filip se gemeenskap. Tog wou hy nooit hê dat die Oratorium
in nog 'n religieuse orde of kloosterliggaam moes ontwikkel nie. Sint
Filip het dié onder sy volgelinge wat 'n roeping daarvoor aan die
dag gelê het na die betrokke orde of klooster gestuur wat hy as
geskik vir hulle geag het.
Maar
in sy eie huis het hy geen kloosteragtigheid geduld nie, en die sekulêre
aard van sy priesters en lekebroers altyd sterk benadruk. 'n Mens moet
altyd in gedagte hou dat die Oratorium in die eerste instansie as 'n groep
leke gefunksioneer het, en dat priesters later vanuit hierdie oorspronklike
kerngroep gewy is.
Tydens
Sint Filip se leeftyd al was hy en sy volgelinge verantwoordelik vir 'n
geestelike hernuwing in die stad Rome. Dit is nie vir niks dat Sint Filip
as die Apostel van Rome bekend staan nie. Stadigaan is
die laksheid en ontaarde leefwyse wat so 'n kenmerk van Renaissance Rome
was, plek gemaak vir 'n geestelikheid en 'n diepsinnigheid soos 'n mens
van die hoofstad van die Christendom sou verwag. En hierin het Sint Filip
en sy Oratorium nie 'n geringe rol gespeel nie. Mense van die kaliber
van Sint Ignatius van Loyola, Sint Karel Boromeo en Sint
Frans van Sales was nie net bevriend of bekend met die Oratorium
van Sint Filip nie, maar had ook groot agting vir die werk wat daar gedoen
is. Sint Karel Boromeo het Sint Filip probeer oortuig om na Milaan te
gaan en het die gebruike van die Romeinse Oratorium in sy bisdom ingevoer.
Alreeds in 1586 is daar begin met Oratoriaanse geestelike oefeninge en
byeenkomste in Napels, en weldra is Filip oorval deur versoeke om Oratoria
in verskeie Italiaanse sentra te vestig. Sint Filip het self baie belang
gestel in sendingwerk en wou graag na die Ooste toe gaan, hy is egter
meegedeel dat Rome sy Indië sal wees en tot en met sy dood op die
26ste Mei 1595 het hy Rome nooit verlaat nie - hy is
in sy geliefde Chiesa Nuovo begrawe. Sint Filip is op die 12de
Maart 1622 in die geselskap van Sint Ignatius van Loyola, Sint
Franciskus Xavierus, Sint Isidorus van Seville en Sint Teresa van Avila
tot heilige verklaar. In die strate van Rome is daar gegrap dat daar op
daardie dag vier Spanjaarde en 'n heilige tot die altaar verhef is. |
| |
Die
verdere geskiedenis van die Oratorium
Die Oratorium het
'n bloeityd in die 17de en 18de eeu beleef toe nuwe gemeenskappe dwarsdeur
die destydse Katolieke wêreld gestig is. Tot en met die Franse
Rewolusie is daar 104 huise in Italië opgerig; sowel as 28 in Spanje
en Portugal; 5 in Pole; 4 in Duitsland; 3 in België; 7 in Amerika
en 5 in Indië. Dit was 'n Oratoriaan, ene Vr. Josef Vaz
van Goa in Indië, wat as die Apostel van Ceylon/Sri-Lanka
bekend staan nadat hy in doodsgevaar 'n Oratorium in die geheim op dié
eiland gevestig het en so die vervolgde Katolieke bevolking getrou aan
hul geloof gehou het ten spyte van al die pogings van die Nederlandse
Calvinistiese bewindhebbers om die Kerk van Christus uit te roei. Dit
is ongelukkig so dat baie Oratoria in die afloop van die Franse Rewolusie
vernietig en onderdruk is. Al die huise in Portugal is deur die Markies
de Pombal gesluit. In Frankryk het die Oratorium sy eie koers ingeslaan
nadat Kardinaal de Bérulle 'n huis in 1611 gestig
het. Die Franse Oratoria het ontwikkel in 'n gesentraliseerde liggaam
wat vandag heeltemal afsonderlik van die Kongregasie van die Oratorium
van Sint Filip Neri staan.
In die 19de eeu
het die Oratorium 'n baie belangrike vastrapplek in die Britse eilande
verkry toe die vername Engelse bekeerling tot die Katolieke geloof,
John Henry Newman, besluit het op die Oratoriaanse
model as die doeltreffendste manier om die Katolieke Kerk weer in Engeland
te vestig. In 1848 stig Newman 'n Oratorium te Maryvale
naby Birmingham (later sou dié huis na Edgebaston in Birmingham
self verskuif).
Vanuit dié
huis het nog 'n groepie Engelse priesters, wat meestal uit bekeerlinge
bestaan het, in 1849 onder leiding van Vr. Faber 'n
huis in Londen opgerig - dit is natuurlik vandag die heel bekende Brompton
Oratorium. Behalwe die alreeds genoemde Newman, wat natuurlik vandag
wêreldwyd aandag geniet as geestelike skrywer van formaat, was
Vr. Faber self 'n digter en skrywer wat veral in sy vaderland bekend
was, ook vir die pragtige gesange wat hy geskryf het. Dié twee
huise van Sint Filip het baie gedoen om Engelssprekende Katolieke se
waardigheid as 'n minderheid in hul eie land te vestig en te ontwikkel.
Vandag is daar ook 'n Oratorium in Oxford wat werksaam is in die studente
bediening.
In hierdie eeu
is die verdere verspreiding en ontwikkeling van Oratoriaanse Kongregasies
meegehelp deur die vestiging van 'n oorhoofse infrastruktuur. Tot in
1933 was daar net 'n paar outonome en onafhanklike Kongregasies van
die Oratorium wat almal gebruik gemaak het van die Konstitusie wat in
1612 deur Pous Paulus V goedgekeur is. Wat dit beteken het was dat ander
huise behalwe Rome die toestemming verkry het om die Konstitusie wat
spesifiek op die Romeinse huis betrekking het, te kon gebruik. In 1933
is daar vir die eerste keer 'n Algemene Kongres in
Rome gehou en is daar 'n Konstitusie vir die Oratorium as 'n wêreldwye
geheel opgestel. Die Oratorium het nou 'n liggaam geword of soos daar
Kerkregtelik gesê word 'n "regspersoon". Daar is besluit
om dié geheel die "Instituut van die Oratorium" te
noem, 'n naam wat tot en met 1969 in gebruik was toe daar besluit is
dat die benaming voortaan "Die Konfederasie van Kongregasies
van die Oratorium van Sint Filip Neri" sal wees. Dié
Konfederasie word deur die Pouslike Stoel as sulks erken en dien as
'n middel waarby individuele huise mekaar doeltreffend kan bystaan sonder
om aan die eie outonomie in te boet.
Die Algemene Kongres
vergader elke ses jaar. Hierdie liggaam kan net die Konstitusies met
die toestemming van die Pouslike Stoel hersien of verander en die Kongres
het geen magte wat die bestuur van individuele huise betref nie. Dit
is hoogstens 'n adviserende liggaam wat die Visitator, die Prokurator-generaal
en die ander beamptes van die Konfederasie vir 'n vasgestelde tydperk
verkies. Die Visitator is die amptelike besoeker van die Pouslike Stoel
en voer sy amp uit soos neergelê in die Algemene Verordeninge.
Sedert die Tweede
Wêreldoorlog het die Oratoriaanse familie uitgebrei in onder meer
Duitsland (waar Oratoriane op die voorgrond van die Liturgiese vernuwing
gestaan het) en die Verenigde State van Amerika (waar nuwe veelsydige
aanpassings veral m.b.t. die Oratoriaanse pastorale bediening gemaak
is, sowel as in die universiteit bediening).
|
| |
Die
lewe van 'n Oratoriaan
Sint Filip se antwoord
op die godsdienstige onverskilligheid en wêreldlikheid van die
sestiende eeu was om die ou en beproefde wapens van die Katolieke Kerk
tot diens van die gewone mens te stel. Hy het veral daarop aangedring
dat elke Christen, wat ookal sy kwalifikasies, homself tot 'n aktiewe
lewe in die Kerk moet toewy. Daar was iets verfrissend nuut en spontaan
omtrent die geestelike bymekaarkomste van Sint Filip.
Vandag nog is hierdie
opgewekte en aktiewe meelewing van die Oratorium in leke se lewens iets
eiesoortig en eg Filippyns. Daar word nooit vergeet dat die Oratorium
oorspronklik deur leke en vir leke gestig is nie.
Elke Oratoriaanse
huis word bestuur deur 'n Provoos wat vir 'n drie-jaar
periode deur die stemgeregtigde lede in die huis verkies word. Die Provoos
word kragtens Kerkreg erken as 'n hoër-owerste alhoewel sy funksie
in die huis meer van 'n administratiewe aard as ‘n wetgewende
een is. Alle belangrike besluite in 'n gemeenskap word deur die Algemene
Beraad geneem. Dié beraad bestaan uit al die vaders
en broeders in 'n huis wat hul drie-jaar proeftyd voltooi het. 'n Persoon
wat by 'n Oratorium aansluit doen so met die voornemens om die res van
sy lewe in dié betrokke huis deur te bring. Dit is 'n kenmerk
dat elke huis of soos dit in Kerktaal bekend staan, elke Kongregasie
aan 'n spesifieke bediening toegewy is. Alle lede in die huis werk dan
na gelang van hul eie bevoegdhede saam aan dié oorkoepelende
oogmerk van hul besondere huis. Iemand wat tot die Oratoriaanse lewe
geroepe voel is eerstens 'n persoon wat aangetrokke voel tot die heel
unieke karakter van Sint Filip en veral die besonderse manier hoe hy
sy eie sterk vryheidsdrang en individualiteit met 'n opbouende en ondersteunende
gemeenskapslewe versoen het. Veral vandag, waar sekulêre priesters
dikwels gedoem is om in akute eensaamheid te arbei, is die wonderlike
sin van samehorigheid wat in 'n Oratorium te vinde is 'n ware voorbeeld
van die veelbesproke "Klein Christelike Gemeenskap"
waarvan die voortbestaan van die Kerk vandag so afhanklik is. In teenstelling
met die eenselwigheid wat baiekeer die charisma van 'n religieuse huis
of orde tipeer, is Oratoriane uit die aard van die saak baie meer individualisties,
sonder om ooit afbreuk te doen aan die geestelike eendrag wat te vinde
is in die liefdesband wat die lede van 'n huis aan mekaar bind.
'n Kenmerk van
die Konstitusies van die Oratorium is hul demokratiese aard, met klem
op vryheid, persoonlike verantwoordelikheid, selfdissipline en desentralisasie.
Die Oratoriaanse lewe word gekenmerk deur 'n afwesigheid van geloftes
en allerhande opgelegde reëls. Sint Filip leuse was natuurlik altyd
: "Vrye mense in 'n vrye huis!".
|
| |
Oratoriane
deur die eeue
'n Bejaarde Oratoriaan
het eenmaal dié opmerking gemaak: "Ons is maar 'n kanttekening
in die geskiedenisboek van die Kerk." Dit is waar dat Sint
Filip en sy volgelinge hul bes gedoen het om uit die kollig te bly.
Daar is die welbekende staaltjie wat vertel word van dié dag
toe die pous die rooi hoed (as teken dat hy hom tot kardinaal wou maak)
aan Filip gestuur het: Filip het dié gesogte kleinood aan die
straatjongens gegee om daarmee bal te speel. Sint Filip het dan ook
nooit enige kerklike amp aanvaar nie. Getalryk was die Oratoriane nog
nooit nie, en groot getalle sou die aard van 'n Oratoriaanse huis onteenseglik
van sy gesinsaspek ontneem. Net soos Sint Filip was sy seuns deur die
eeue maar sku vir die aanvaarding van openbare eer en het dié
tipe van lae profiel werklik 'n deel van die Oratoriaanse leefwyse geword.
Tog het dit die Kongregasie nog nooit aan leiers op alle vlakke van
die geestelikheid en Kerkleer en dies meer ontbreek nie. Dit is eintlik
merkwaardig dat die Oratorium in elke eeu en dit ten spyte van geringe
getalle en die afwesigheid van 'n groot oorhoofse infrastruktuur tog
sovele manne van formaat opgelewer het.
Een van Sint Filip
se getrouste dissipels, Césare Baronius het
een van die eerste volledige Kerkgeskiedenisse saamgestel - hy is later
as't ware geforseer om die rooi hoed te aanvaar.
Die Franse Oratoria
wat deur daardie geestelike reus van sy tyd, Kardinaal de Bérulle
op die been gebring is en in 1613 deur 'n Pouslike Bul as 'n aparte
entiteit erken is, het gedurende die 17de eeu mense van die formaat
van Nikolaas de Malebranche, Charles de Condren, Jean-Baptiste
Massillon en Richard Simon opgelewer. Sint
Jean Eudes was ook 'n tyd lank 'n Oratoriaan voordat hy weg
is om sy eie kongregasie te stig. Die Franse Oratoria het veral 'n geestelike
en filosofiese herlewing in die akademiese instellings van hul land
teweeggebring en was teen die einde van die 18de eeu, toe hulle wreed
tydens die Franse Rewolusie onderdruk is, die onbetwiste toonaangeërs
aan die universiteite van Frankryk. In die 19de is die Franse Oratoria
weer opgerig en het dié kongregasie mense soos Louis
Bouyer opgelewer, een van die mees vername geestelike skrywers
van ons tyd.
Daar is vier Oratoriaanse
saligverklaardes, Juvenalis Ancina (1545-1605), Antonius
Grassi (1592-1671), Sebastiaan Valfré
(1629-1710) en Josef Vaz (1651-1711). Die Oratoriaanse
priester Luigi Scrosoppi (1804-1884) uit die stad Udine,
in die noorde van Italië, is in die jaar 2000 deur Pous Johannes
Paulus II tot heilige verklaar. St. Luigi was die Stigter van die Kongregasie
van die Susters van Voorsienigheid. Manne van die kaliber van
Biskop Arista van Acireale; asook Biskop Huix-Miralpeix
van Lérida, wat albei tydens die Spaanse Burgeroorlog
'n martelaarsdood gesterf het, het as seuns van Sint Filip onwrikbaar
hul geloof bely. Nou meer onlangs was daar Kardinaal Bevilaqua
van die Brescia Oratorium wat 'n getroue raadgewer van Pous Paulus VI
was. Die erns van die Oratoriaanse roeping bestaan egter nooit uit faam
nie, maar om op 'n beskeie en eenvoudige manier die Skepper te dien.
|
| |
Die
Oratorium hier ter plaatse
Die Oratorium hier
in Suid-Afrika is uniek in vele opsigte. Dit is die eerste Kongregasie
wat nog ooit in Afrika die lig gesien het, en dit is maar een van twee
huise in die Suidelike Halfrond. Die huis het in 1992/92 ontstaan toe
agt mans 'n gemeenskapslewe op uitnodiging van die Biskop van Oudtshoorn
in sy bisdom begin het. Die Kongregasie van die Oratorium van
St. Filip Neri in Oudtshoorn is op die 15de Augustus, 1997,
kerkwetlik opgerig as ’n outonome gemeenskap. Die spesifieke bediening
van dié gemeenskap is om na die behoeftes van die snelgroeiende
aantal Afrikaanssprekende Katolieke regdeur Suid-Afrika en Namibië
om te sien. Die Oudtshoorn Oratorium behartig die vertalingskantoor
van die A.T.P.S. (die Afrikaanse Taal Pastorale Streek van die Suider-Afrikaanse
Katolieke Biskoppe Konferensie). Die A.T.P.S. se doel is om al die nodige
liturgiese tekste vir kerklike aanbidding en die sakramentele lewe in
Afrikaans beskikbaar te stel. In 2004 het die Oudtshoorn Oratorium ook
’n eie uitgewery op die been gebring: Die Oratorium Uitgewery
spits homself toe op geestelike en devosionele boekies in Afrikaans
en ’n aantal publikasies het al die lig gesien. Wat dié
Kongregasie van die Oratorium so uniek maak is die feit dat die tradisionele
Katolieke gemeenskapslewe hier in en deur Afrikaans uitgeleef word:
Die Daaglikse Liturgiese Gebedsure van die Kerk word hier in Afrikaans
gebid! In 2005 is ’n gemeenskap van die Susters van Voorsienigheid
in Oudtshoorn gestig om in vennootskap met die Oratoriane die beplande
St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton in Oudtshoorn
te vestig. Hierdie beoogde projek het ten doel die geestelike en sosiale
verheffing van die township gemeenskap op die wyse wat St. Filip Neri
sy tyd se probleme so sukses in Rome aangespreek het. Dié beplande
sorgsentrum sal uiteindelik opvoedkundige, sport en mediese fasiliteite
aan die breër gemeenskap bied. Dit is dan ons opregte hoop en bede
as die lede van dié (nog) enigste huis van Sint Filip in Afrika,
dat ons Heilige Stigter se lewenslustige en byna uitspattige Goddelike
uitbundigheid in en deur ons voorbeeld, ook hier onder die warm Suiderson
'n vrugbare teelaarde sal vind vir dié grootse gawe van Liefde
waarmee Christus sy Kerk so mildelik geseën het.
|
| |
BRONNELYS:
Addington, Raleigh,
Wat is die Oratorium, (Afrikaanse Vertaling), Oudtshoorn, 1994.
Addington, Raleigh,
The Idea of the Oratory, Burns & Oates, 1926.
Addington, Raleigh,
St. Philip Neri, Catholic Truth Society, 1984.
Afrikaanse Vertaling
van Die Konstitusies en Algemene Verordeninge van die Oratorium,
Oudtshoorn, 1994.
Bouyer, Louis,
The Roman Socrates, (Engelse Vertaling), Chapman, 1958.
Capecelatro, Alfonso,
The Life of St. Philip Neri, (Engelse Vertaling), Burns &
Oates, 1926.
Direktorium
voor die spiritualiteit van de Heilige Filip Neri, (Nederlandse
Vertaling), Rome, 1993.
Dawn, Peter, St.Philip
Neri, Catholic Truth Society, 1989.
Finotti, Giorgio,
Die Charisma van die Oratorium van Sint Filip Neri, (Afrikaanse
Vertaling), Oudtshoorn, 1993.
Ponelle en Bordet,
St.Philip Neri and the Roman Society of his times, (Engelse
Vertaling), Sheed &Ward, 1932.
Türks, Paul,
Das Oratorium, Aachen, 1984.
Vogl,
Franz, Philipp Neri, Geschichte eines ungewönlichen Lebens, Pfarrgemeinderäten,
Pfarrei Herz-Jesu, Pegnitz.
|
| |
|
Die
Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn is 'n geregistreerde
Openbare Weldaadsorganisasie
Nommer 93 00 00 036 |